Noordrand Susterskuier

Groot was die opwinding toe 28 Noordrand susters en vriendinne bymekaar gekom het vir die Noordrand Susterskuier op Saterdag 21 April.

Die verrrigtinge het begin met skriflesing en gebed deur Jeanne Prinsloo. Daarna het ons ‘n kort vergadering gehou waar Jeanne meer vertel het van die susters se finansies en moontlike aksies vir die res van die jaar.

Om mekaar te leer ken, het ons ‘n speletjie gespeel deur items te noem en te kyk of die susters dit in hulle handsakke het.  Dit het vir groot vermaak gesorg en Hanni du Plessis het met die louere weggestap – so indien jy iets nodig het en Hanni is naby gaan sy jou beslis kan help.

Louwrens Prinsloo en sy vriend Franco, van Potchefstroom, het almal met hul sang en kitaarspel vermaak.  Die susters het veral die Neil Diamond liedjies geniet. Miriette Hoogendyk, ‘n suster in die gemeente en apteker van beroep, het kom gesels oor wat ons moet doen om onsself teen die winterkwale te beskerm.  Alhoewel ons die meeste reeds weet, was dit goed om dit weer te hoor.  Ons glo en vertrou dat almal gesond deur die winter sal gaan.

Natuurlik moet ons nie die heerlike soet en sout happies vergeet wat saam met koffie en lekker gesels geniet is nie. Ons het ook vir die susters gevra om toiletware saam te bring vir ons koskas en weereens het Noordrand se susters nie geskroom om te gee nie.  Baie dankie julle!

Dit was voorwaar ‘n heerlike oggend en ons maak sommer gou weer so en hoop daar kan volgende keer dubbel soveel susters saamkuier.

Noordrand-susters groete,

Jeanne Prinsloo

Please follow and like us:
GK Noordrand